Brief soos verskyn in Volksblad van 10 Jan 2014

Hieronder is ‘n brief soos dit verskyn het in Die Volksblad van 2014/01/10 vir die wat dit gemis het:

Stel Vanderkloof oop

Vanderkloof is ’n binnelandse vakansieoord met duisende vakansiegangers wat die dorp besoek, veral oor vakansietye. So was dit seker 25 jaar lank en het besoekers onbeperkte toegang tot die naasgrootste dam in Suid-Afrika gehad. Daar was damfront van ongeveer 3 km vir hengel en hengelkompetisies en drie sleephellings vir booteienaars.

Maar helaas van 2013 nie meer nie!

Besoekers aan die dorp word jaarliks minder, want die dam word “toegesluit” vir hulle. Die Gariepdam, Kalkfonteindam en Doornkloof-natuurreservaat in die onmiddellike omgewing val blykbaar nie onder die reëls en wette van toepassing op Vanderkloofdam nie, want toegang tot daardie drie damme is onbeperk.

Die sleephelling in die vakansie-oord vir die gerief van die mense in die oord is ten duurste ontwikkel. Nou word dit versper deur sementblokke wat watertoegang verhinder.

Die sleephelling by die ingang van die dorp, wat die laaste 25 jaar in gebruik was, het ’n “Geen Toegang”- kennisgewingbord gekry. Die bootklub beheer nou die sleephelling en geriewe wat by Crolia-baai met belastinggeld vir dagbesoekers ontwikkel is – en belastingbetalers moet nou wéér betaal om van hul eie ontwikkelde dienste te gebruik. Van geriewe vir dagbesoekers is nou geen sprake nie.

Die hengelwater oorkant die dorp aan die Vrystaat-kant word toegesluit omdat mense glo daar mors.

Dit was 25 jaar lank altyd beskikbaar, maar skielik, in 2013, mors mense te veel en word voertuigtoegang verbied. Slegs mense wat die gerief van ’n boot het, het toegang tot die gebied, maar hulle mag nie daar kampeer of oornag nie.

Die vraag word gevra: Word die publiek deur wetgewing van die naasgrootste dam in Suid-Afrika se watergeriewe uitgesluit, of is daar mense wat dit doen vir eie gewin?

Politici en betrokkenes moet saamstaan en die dorp en dam weer toeganklik vir almal in Suid-Afrika maak. Dit kan nie so aangaan nie, want besoekers aan die dorp en vakansieoord word jaarliks minder.

Mense wat weet, help asseblief om die dorp weer “oop” te kry vir almal, anders gaan alle ondernemings eersdaags ook hul deure moet toemaak.

Bekommerde Inwoners

Vanderkloof

 

Related posts

2 thoughts on “Brief soos verskyn in Volksblad van 10 Jan 2014

  1. Anton

    Wat n gemors, genugtig wie is verantwoordelik. Seker maar weer agv apartheid.

  2. Henry

    Dis regtig nie hoe dit moet wees nie. Sekere mense gebruik dit vir hul persoonlike gewin en met hul families. Die damwal word oor kerstyd toegesluit, Die oord akkomodasie is vuil. Geen toegang tot die natuurbewaaring of hulwoonings of om vriende en familie die diere te wys. Keurtjieskloof is in die nag n spook dorp. Iemand moet kan antwoorde gee. Waar is die gelde on na die dorp se infrstruktuur te kyk. Munisipalebestuurder is 150km uit die dorp. Die hele storie moet na gekyk word en stel voor dat die gemeenskap hul lig en hul griewe tekenne laat maak.

Leave a Reply