Krag word dalk van Maandag af gesny

Eskom sê hy gaan dorpe se krag snyDeur Charné Kemp

21 Januarie 2016 00:00

Petrusville. – Eskom gaan Maandag die Renosterberg-munisipaliteit se elektrisiteitstoevoer weens beweerde wanbetaling onderbreek.
Die elektrisiteitsverskaffer gaan ook op 29 Januarie die elektrisiteitstoevoer na vier ander rade se gebiede onderbreek – Warrenton in Magareng, Hopetown en Strydenburg in The-mbelihle, Victoria-Wes en Richmond in Ubuntu, asook Barkly-Wes, Delportshoop en Proteahof in Dikgatlong.
Die Renosterberg-munisipaliteit sluit Vanderkloof, Philips-town en Petrusville in.
Dié munisipaliteit se skuld het van September verlede jaar van R22,6 miljoen tot R26,5 miljoen gestyg.
Intussen dreig AfriForum en AfriSake om Eskom se planne te stuit.
Marcus Pawson, AfriForum se hoof van plaaslike regering, sê Eskom se dreigemente kom te midde van ’n hangende aansoek om ’n verklarende en verbiedende bevel wat AfriForum en AfriSake in Desember 2015 teen Eskom bekom het. Dit verbied die elektrisiteitsverskaffer om enige dorp se elektrisiteitstoevoer te onderbreek.
“Enige kennisgewing van Eskom aan munisipaliteite om elektrisiteitstoevoer te onderbreek is onregmatig, omdat die saak sub judice is.”
Eskom meld in ’n koerantadvertensie die Renosterberg-munisipaliteit se skuld is sedert Januarie 2013 uitstaande. Die raad het ook nie die bepalings van die betalingsooreenkoms nagekom nie. Die elektrisiteitstoevoer sal tussen 07:00 en 10:00 en tussen 18:00 en 20:00 onderbreek word.
Die munisipaliteit ontken hy het nie sy skuld aan Eskom betaal nie.
Ndoyisile Veli, waarnemende munisipale bestuurder, sê die munisipaliteit het sedert September drie betalings van onderskeidelik R800 000, R1 miljoen en R1,5 miljoen gedoen.
“Ons het geldelike probleme, maar ons doen ons bes om dit te oorkom en steeds dienste te lewer.”
Zamani Saul, die ANC se provinsiale sekretaris, sê die munisipaliteit betaal na sy wete maandeliks sy skuld aan Eskom. Die laaste betaling is vandeesmaand gedoen.
“Ons beskou Eskom se dreigement as onbillik. Ons het die raad gevra om inwoners in te lig en gerus te stel. Die raad sal seker maak dat die skuld gedelg word.”
Hy het die raad ook gekomplimenteer, omdat “dienslewering ingevolge die Back to Basics-veldtog verbeter het”.
Die munisipaliteit se benarde geldelike omstandighede het verlede jaar veral die aandag van die staande komitee vir openbare rekeninge (Skoor) op ’n besoek aan die Noord-Kaap getrek.
Xhanti Teki, woordvoerder van die provinsiale departement van samewerkende regering, sê die departement het ’n hoof- finansiële amptenaar na die raad afgevaardig om die geldsake reg te ruk.
“Die LUR mag verkies dat die munisipaliteit sy magte behou om sy eie omstandighede te verbeter eerder as om die raad onder administrasie te plaas.”
Ismail Obaray, DA-woordvoerder vir Skoor, sê die instansie eis weer, soos verlede jaar, dat Alvin Botes, LUR vir plaaslike regering, die munisipaliteit onder administrasie plaas. “Dit is onregverdig dat Noord-Kapenaars moet ly weens die plaaslike rade se onbevoegdheid.”

Related posts

Leave a Reply