Monstergeelvis laat wêreld gons

Jeremy Grace met die monster-grootbekgeelvis wat hy die naweek in die Vanderkloofdam met ’n vlieghengelstok uitgetrek het. Die vis is 1 meter lank en weeg 11,5 kg. Foto: Erich Pienaar
Jeremy Grace met die monster-grootbekgeelvis wat hy die naweek in die Vanderkloofdam met ’n vlieghengelstok uitgetrek het. Die vis is 1 meter lank en weeg 11,5 kg. Foto: Erich Pienaar

’n GROOT vis wat in die Vanderkloofdam uitgetrek is, het hengelaars oor die wêreld heen behoorlik aan die praat.

Die grootbekgeelvis van 11,5 kg en 1 meter is die naweek deur ’n vlieghengelaar van ’n boot in dié dam in die Oranjerivier gevang.

Jeremy Grace van Johannesburg se vangs word as ’n nie-amptelike Suid-Afrikaanse rekord vir vlieghengel beskou.

Sover vasgestel kan word, was die swaarste grootbekgeelvis tot nog toe 22 kg, maar dié is van die oewer uitgetrek.

Die vorige grootste wat met ’n vlieghengelstok gevang is, is glo 9,2 kg.

Grace is lid van die Windknot-vlieghengelklub van Potchefstroom wat die naweek lyne in die dam natgemaak het.

Erich Pienaar, klublid wat langs Grace was, sê dié vis is waarna vlieghengelaars as ’n “vis uit miljoen gooislae” verwys.

“Dit was ’n belewenis. ’n Mens kan hom vir ’n jaar probeer vang en hom glad nie kry nie.”

Hulle reken die vis is tussen 30 en 40 jaar oud – dus heelwat ouer as die dam self.

“Toe die dam gebou is, was hy reeds in die rivier. Grootbek-geelvisse begin eers op agt jaar teel.”

Die Windknot-klub is daarop ingestel om die grootbekgeelvisse te bewaar. Hulle kom net in die Oranje- en Vaalrivier voor en word ernstig bedreig. Sulke grotes is baie skaars.

Hulle het egter meer grootbek- as kleinbekgeelvisse, wat meer algemeen is, uitgetrek.

Vanderkloof is ’n onontdekte vlieghengelparadys, reken die klub.

Hulle doen ’n dringende beroep op hengelaars om die visse terug te gooi en nie dood te maak nie.

“Dit is vir ons baie belangrik.”

Grace het die “muishond’’-kunsvliegie van Marius Rossouw (uitvinder) ingespan en langer as ’n uur in die water gehou.

Hulle was sowat 2 km van die damwal toe die monstervis toegeslaan het.

Pienaar sê daar was reeds navrae uit Amerika oor vlieghengel in Suid-Afrika nadat foto’s van die grote sedert Sondag op sosiale media rondgestuur word.

 

Soos berig in Die Volksblad. Oorspronklike artikel kan gevind word deur hier te click. 

 

Related posts

2 thoughts on “Monstergeelvis laat wêreld gons

  1. jacques cooper

    Well done!!!!!

  2. […] in die langste dam in Suid Afrika geniet om af te koel, of net om te sê “ek het in die huis van die Grootbek Geelvis geswem […]

Leave a Reply